BY GOD VIND ONS RUS
deur ds. Jannie Smith
“Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ‘n toevlug (62:9). Psalm 62
Ons leef in bitter onseker tye. Wat gaan môre bring? Wat gaan die ekonomie doen? Gaan ek my werk behou? Sal my salaris kan byhou by al die prysstygings? Om in sulke omstandighede op die Here te vertrou is maar moeilik.
Die Psalmdigter het ontdek dat sy lewe soos ‘n muur is wat enige oomblik kan omval. Daar is vir hom twee moontlikhede: Hy kan op mense vertrou, of op die Here. Om in ‘n krisis op mense te vertrou, is ‘n groot waagstuk, want hulle is soos gras wat vinnig vergaan. As jy ‘n mens op ‘n skaal sit, weeg hy niks (10). Selfs diefstal, rykdom en geweld sal ‘n mens nie deur krisisse help nie (11).
Daarteenoor is God soos ‘n onbeweeglike rots. Wie dus op Hom vertrou het stewigheid en stabiliteit in sy of haar lewe – al is die lewe baie onseker. God is die een vaste punt in ons lewe. Wanneer alles verbygegaan het – ons gesondheid, geld, of lewe – sal Hy nog daar wees! Hy is soos ‘n skuiling wanneer die storms van die lewe woed. Geen probleem is vir Hom te groot of te klein nie.
Soms is dit nodig dat ‘n mens gebreek word. Eers wanneer jy aan die einde van jouself gekom het, jou eie verganklikheid besef en weet dat jy eintlik maar net ‘n asempie is, ontdek jy wie God is. Dan kan jy, soos die psalmdigter, rus vind by God (6-9). Voor die Here kan jy jou bekommerde en moeë hart kom leegmaak.
Mag u in hierdie tyd die vrede van God “wat alle verstand te bowe gaan” ervaar, en mag u hierdie vrede ook leef teenoor elkeen wat met u die pad kruis.
GEBED: Here God van genade, U is my rots en skuiling.
Dankie dat niks my van U liefde kan skei nie.
No comments:
Post a Comment