Thursday, 30 August 2012

‘N STERKTEPERSPEKTIEF OP DIE BENUTTING VAN VERHOUDINGE AS STERKTE BY CHEMIESE AFHANKLIKE ADOLESSENTE deur ELMARI VAN DER WALT


‘N STERKTEPERSPEKTIEF OP DIE BENUTTING VAN VERHOUDINGE AS STERKTE BY CHEMIESE AFHANKLIKE ADOLESSENTE deur ELMARI VAN DER WALT

Die Suid-Afrikaanse samelewing word hedendaags gekenmerk deur sekere hoërisikofaktore asook uitdagings waaraan die adolessent daagliks blootgestel word. Die misbruik en progressiewe afhanklikheid van chemiese substanse – wettig asook ontwettig – word as van die hoogste risiko­gedrag by die adolessent geklassifiseer. Alhoewel chemiese afhanklikheid dikwels as patologies en onomkeerbaar afgemaak word, kan dit wel ook beskou word as ‘n ervaring waaruit heelwat sterktes asook hulpbronne verkry word – dus ‘n leerervaring.

Chemiese afhanklikheid by die adolessent beïnvloed belangrike en betekenisvolle verhoudinge.  Verhoudinge kan dan ook ‘n invloed uitoefen op die adolessent se keuse om met wettige asook onwettige substanse te eksperimenteer. Die hipotese word gestel dat die adolessent wat chemies afhanklik is, verhoudinge as sterkte kan benut.  Verhoudinge, wat as ‘n sterkte beskou word, word deur Wolin & Wolin (1993:111) beskryf as ‘n intieme en vervullende verbinding met een of meer persone. 'n Betekenisvolle verhouding met 'n ander persoon bied aan die adolessent die bewys dat hy wel liefde kan ontvang van ander asook liefde kan gee aan ander (Wolin & Wolin, 1993:111).

Laursen (2003:1) is van mening dat daar duidelike bewyse bestaan dat versorgende en goeie verhoudinge bydra tot die adolessent se veerkragtigheid en die wyse waarop die adolessent moeilike en uitdagende omstandighede en situasies soos die misbruik van substanse en chemiese afhanklikheid hanteer.  Daar is sewe elemente geïdentifiseer wat van belang is in ‘n sekure en goeie verhouding tussen die adolessent en ‘n betekenisvolle ander persoon, spesifiek ‘n volwasse persoon (Laursen, 2003). Hierdie elemente is vertroue, aandag, empatie, beskikbaarheid, erkenning, respek en deugsaamheid. Samevattend kan dit gestel word dat die sewe elemente van 'n betekenisvolle verhouding soos uiteengesit deur Laursen (2003) van belang is in die bou en behoud van adolessente wat chemies afhanklik is.  Die teenwoordigheid van diè sewe elemente binne ‘n verhouding tussen die adolessent en ‘n betekenisvolle ander persoon verseker sekuriteit asook ‘n gevoel van behoort binne daardie verhouding.  Die elemente kan ook verder benut word om verbrokkelde verhoudinge te herbou.

Die navorser het na deeglike bestudering en konsultering besluit om gebruik te maak van gestandaardiseerde vraelyste as data-insamelingsmetode. Daar is van elke deelnemer verwag om een PMSI-vraelys (persoonlike multi-sifting-inventaris), een CFI-High-vraelys (kinder-assessering: hoërskool) asook nege Hudson-skale in te vul. Die vraelyste word as geldig asook betroubaar beskou. Die spesifieke vraelyste is deur die navorser gekies aangesien dit fokus op verskillende verhoudinge (met ouers, sibbe, portuurgroepe) asook die aard van daardie verhoudinge.  Die vraelyste sluit ook ander aspekte wat van toepassing is op die studie in, naamlik trauma dinamika en alkohol- en dwelmmisbruik.

Tydens die ondersoek is daar gefokus op verskillende verhoudinge waarby adolessente gewoonlik betrokke is.  Die verhoudinge sluit in ouers of versorgers en sibbe, die portuurgroep, skool en onderwysers, betekenisvolle ander persone, die gemeenskap en omgewing, verhouding met God asook verhouding met die self. Na afloop van die studie is daar tot dié gevolgtrekkings gekom:

· Adolessente kan positiewe verhoudinge met ander persone tot hul voordeel benut en as sterkte gebruik wanneer hul voor uitdagende situasies, soos substansmisbruik, te staan kom. 
· Leidinggewing en ondersteuning speel ‘n belangrike rol binne verhoudinge wat as sterkte benut kan word.
· Goeie kommunikasievaardighede is nodig binne ‘n positiewe verhouding.
· ‘n Goeie verhouding met die skool en onderwysers (wat insluit vertroue, respek en beskikbaarheid) bied aan adolessente struktuur en gee leiding rondom gehoorsaamheid en respek aan ander persone binne ‘n verhouding (vgl. 3.3.4.5 en 5.4.5.2).
· Adolessente toon ‘n behoefte aan ‘n persoon wat na hulle luister en beskikbaar is indien benodig.
· Die verbetering van luistervaardighede binne verskillende verhoudinge kan dus as sterkte dien.
· Adolessente wil ervaar dat hul persone met wie hulle verhoudinge handhaaf, kan vertrou, wat dus ‘n verhouding versterk en struktuur aan daardie verhouding verleen.
· ‘n Gevoel van omgee en positiewe motivering binne verhoudinge word deur adolessente as ‘n noodsaaklikheid beskou en skep ‘n gevoel van veiligheid vir adolessente. 
· Adolessente wil egter ook ervaar dat hulle ‘n positiewe bydrae lewer tot verhoudinge, en wil graag me-dedeelsaam wees en ander persone tot hulp wees.

‘n Atmosfeer moet dus geskep word binne bestaande verhoudinge waar wedersydse hulp, kommunikasie en ondersteuning teenwoordig is.
· ‘n Verbetering wat selfpersepsie en selfbeeld aanbetref, kan tot voordeel wees vir adolessente aangesien hul dan meer vertroue in hulleself sal hê.
· ‘n Goeie verhouding met God, of dan ‘n Hoër Wese, bied aan adolessente standvastigheid en gee aan hul ‘n sin van bestaan.  Dit bied dan ook ‘n gevoel van hoop en betekenis, en het ‘n positiewe invloed op die morele ontwikkeling van adolessente.


Aanbevelings is na aanleiding van die literatuur- en empiriese ondersoek aangebied, byvoorbeeld:
· dat wegbeweeg word van oorsaak-gevolg-denke en dat die adolessent met behulp van die sterkteperspektief bemagtig kan word om ‘n sinvolle bydrae te lewer tot sy eie herstel- en hulpverleningsproses;
· dat die adolessent dikwels verhoudinge het met ‘n verskeidenheid groepe (soos ouers, sibbe, vriende, die skool, die omgewing/gemeenskap waarin hul woon, betekenisvolle ander persone asook met God) wat verskil van mekaar en elk op hul eie wyse ‘n invloed het op die adolessent se keuse om met substanse te eksperimenteer, asook in die herstelproses van die afhanklike adolessent;
· dat adolessente wat hulself as negatief beleef, geneig is om met substanse te begin eksperimenteer – veral as hulle emosionele funksionering laag is, hulle nie ‘n standvastige geloofsisteem in plek het nie en hul psigo-sosiale funksionering dikwels deur hul uitdagende omstandighede op ‘n negatiewe wyse beïnvloed word;
· dat adolessente positiewe verhoudinge met ander persone tot hul voordeel kan benut en as sterkte gebruik wanneer hul voor uitdagende situasies, soos substansmisbruik, te staan kom. Maatskaplike werkers behoort te fokus op die rol wat leidinggewing en ondersteuning binne verhoudinge speel en dit as sterkte benut om goeie kommunikasievaardighede, vertroue, respek en beskikbaarheid te bied aan adolessente. Adolessente wil egter ook ervaar dat hulle ‘n positiewe bydrae lewer tot verhoudinge, en wil graag mededeelsaam wees en ander persone tot hulp wees. 'n Atmosfeer moet dus geskep word binne bestaande verhoudinge waar wedersydse hulp, kommunikasie en ondersteuning teenwoordig is


Die hipotese dat die chemies afhanklike adolessent verhoudinge as sterkte kan benut in die herstelproses, maar ook as ‘n voorkomings- en beskermende faktor, is bevestig tydens die studie.


No comments:

Post a Comment