Sunday, 28 February 2016

Uit die pen van die Direkteur



Op 8 Januarie 2016 ontvang ek ‘n teksboodskap op my foon terwyl ek oppad is see toe.

“Moresê. Pa Peet is vanoggend oorlede. Groete.Martie.” lui die boodskap. Pa Peet is Ds. Peet Duvenage, eertydse voorsitter van die Aurora Sentrum en SANRA Nasionale Kantoor. Predikant by verskeie Gereformeerde gemeentes en het geëmiri-teer by die gemeente in Bultfontein. ‘n Sagmoedige reus. Baanbreker in die diens-lewering vir die behandeling en voorkoming van alkohol en dwelmafhanklikheid in Suid Afrika. Hardwerkend, ewige optimis en denker.

Terwyl hy in Johannesburg predikant was, het die nood van alkoholiste hom geraak en hy het geroepe gevoel om langs hulle te staan en deur woord en voorbeeld hulle wêreld te betree. Hy het eers kers gaan opsteek by Alkoholiste Anoniem en baie by die groep geleer, maar gevoel dat hy as Christen-predikant nie ‘n “opperwese soos jy dit verstaan” kan onderskryf nie. Hy het later ‘n eie bediening begin en afhan-klikes met behulp van medegelowiges wat hy opgelei het, bedien. Tydens sy bedie-ning in Bloemfontein het hy met die destydse SANRA Bloemfontein kontak gemaak en het saam met Ds. Willie Strydom en ds. Filmalter op die bestuur van die organisasie gedien. Mnr. Noeth het mettertyd betrokke geraak en saam het hulle die organisasie uitgebou. Ds. Duvenage was ‘n gemeenskapsmens. Hy het gedien op die destydse Streekswelsynsraad in die Vrystaat, ‘n Adviesraad wat die Minister van raad bedien het, en vele ander forums waar hy die gemeenskap tot diens kon wees. Daarbenewens het hy ‘n groot gemeente met velerlei aksies bedien – dikwels gesien op sy fiets terwyl hy huisbesoek gedoen het. Op ‘n baie besondere manier het hy mense aangeraak omdat hy absoluut nie-veroordelend was. Na sy emerite-ring het hy na die Rand verhuis en later by sy dogter in Koster gaan woon. Sy vrou, Christien, word tans in die plaaslike tehuis vir bejaardes versorg.

Ons eer die nagedagtenis van ‘n man wat diep spore in die geskiedenis van die Aurora Sentrum getrap het.

No comments:

Post a Comment