HERSTELLENDE PRAKTYKE EN AVONTUURGEBASEERDE AFWENTELINGSPROGRAM –
MARITSA ELLS
Herstellende praktyke is ʼn opkomende veld van studie wat mense in staat stel om hul gemeenskap te bou en te herstel. Die sukses van herstellende praktyke mag help teen die koste van misdaad en om hervorming in kriminele geregtigheid te weeg te bring. Geregtigheid behoort nie ʼn problematiese konsep te wees nie, maar eerder ʼn geleent-heid om te herstel wat verkeerd gedoen is (Aertsen, 2009:4). Herstellende praktyke is ʼn filosofie wat aspekte insluit soos genesing, mediasie, deernis, vergifnis, genade en rekonsiliasie. Dit word erken as ʼn wêreldsiening wat sê dat alle mense met mekaar verbind is en dit het ʼn impak op ander mense (Consedine, 1999:183).
Zehr en Mika (2004:42) noem dat herstellende geregtigheid se doel is om die verkeerde reg te maak. Die behoefte van slagoffers aan inligting, bekragtiging, regverdiging, herstelling, getuienis, veiligheid en ondersteuning is die beginpunt van geregtigheid. Die geregtigheidsproses verskaf ʼn raamwerk wat die werk van herstelling bevorder. Slagoffers word bemagtig deur die verhoogde insette en deelneming aan die afwentelingsprogramme om die behoeftes en uitkomstes van persoonlike situasies te bepaal. Oortreders word betrek om skade so ver as moontlik te herstel.
Adolessente is, soos alle samelewingsgroepe, ook by misdaad betrokke daarom het die navorser dit goed gedink om ‘n Avontuurgebaseerde afwentelingsprogram te ontwikkel. Hierdie program strek oor ‘n tydperk van 6 weke waar oortreders 2 keer ‘n week groepe bywoon. Die program fokus op basiese lewensvaardighede soos probleemoplossing, selfbeeld en konfikhantering. Hierdie vaardighede word aangeleer deur aktiwiteite wat uitgevoer word op ‘n laetoubaan. Na afloop van die program is die adolessente geëvalueer om die impak van die program te bepaal.
Die waarde van AGT word opsommender wys as volg uiteengesit:
· Avontuur aktiwiteite het die groepsdinamika bevorder.
· Die lede kon gemaklik met mekaar kommunikeer en openlik teenoor mekaar wees.
· Deelnemers kon mekaar konfronteer tydens die sessies.
· Die besprekings het te alle tye positief geëindig.
· Die tegnieke wat benut is tydens avontuur ervaringe het die deelnemers gehelp om moeilike situasies makliker te hanteer. Dit het die deelnemers bewus gemaak dat hulle oor vaardighede beskik om situasies effektief te hanteer. Dit het ook die groepsdinamika verbeter.
Na afloop van die Avontuurgebaseerde afwentelingsprogram het die navorser ‘n natoets gedoen wat dui op die volgende:
· ʼn Algehele verbetering het voorgekom in tevredenheid, wat hul unieke gevoelens van welbehae meet.
· Selfhandhawende gedrag het oor die algemeen verbeter.
· Gevoelens van angstigheid, frustrasie en vrees het verminder.
· Die liggaamsbeeld het verbeter, met ander woorde die beeld wat deelnemers het oor hul liggame het verbeter na afloop van die program.
· Deelnemers is bemagtig om nie hulpeloos in hul situasies te voel nie.
· Deelnemers het die leiding aanvaar om weer mense te vertrou.
· Oortreders is verantwoordelik en aanspreeklik gehou vir hul aksies.
· Geleentheid vir heling is verskaf.
Die bogenoemde dui aan dat daar wel groei plaasgevind het en dat die adolessente se maatskaplike funksionering na afloop van die program verbeter het. Die navorser glo dat daar baie lesse geleer kan word vanuit avontuur ervaringe.