HERSTELLENDE PRAKTYKE deur Maritsa Ells
Die term herstellende praktyke kan toegeskryf word aan Albert Eglash (1977), wat dit goed gedink het om te onderskei tussen dit wat hy gesien het as verskillende vorme van kriminele geregtigheid. Die eerste vorm was betrokke by vergeldende geregtigheid, waar die klem hoofsaaklik is om oortreders te straf vir dit wat hul gedoen het. Die tweede vorm het gehandel oor toedelende geregtigheid waar die klem primêr geval het op die rehabilitasie van oortreders. Die derde vorm handel oor herstellende geregtigheid wat gelyk is aan die beginsel van herstel. Eglash was die eerste persoon wat die terme met ʼn benadering verbind het. ʼn Benadering wat die skadelike gevolge van ʼn oortreder se aksies aanspreek deur die soeke na aktiewe betrokkenheid van die oortreder en slagoffer tydens ʼn proses wat daarop gemik word om herstel van slagoffers en die rehabilitasie van oortreders te verseker (Dignan, 2005:94). Herstellende geregtigheid is ʼn vorm van herstellende praktyke. Herstellende geregtigheid is die hoofdoel wat bereik moet word tydens die toepassing van herstellende praktyke.
Herstellende praktyke is ʼn opkomende veld van studie wat mense in staat stel om hul gemeenskap te bou en te herstel. Die sukses van herstellende praktyke mag help teen die koste van misdaad en om hervorming in kriminele geregtigheid te weeg te bring. Geregtigheid behoort nie ʼn problematiese konsep te wees nie, maar eerder ʼn geleentheid om te herstel wat verkeerd gedoen is. Herstellende geregtigheid moet kriminele geregtigheid uitdaag terwyl genoeg outonomie behou word in samewerking met ander velde van herstellende praktyke (Aertsen, 2009:4).
Meeste van die jeugdiges wat opgeneem word in die Aurora Jeugsentrum was al betrokke by kriminele oortredings. Dit is belangrik om vir die jeug te leer dat hul moet gaan herstel wat hul verkeerd gedoen het. Hierdie benadering leer die jeug om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul aksies.