‘n Uitdaging tot ‘n leefstyl van dankbaarheid
deur Marietjie Landsberg
Vroeg een wonderlike somers Vyrstaat oggend besluit ek om vinnig vir tien minute met ‘n tydskrif te ontspan. Bietjie kwaliteittyd met myself. Ek lees die volgende woorde wat my na my asem laat snak.
Gratitude unlocks the fullness of life. It turns what we have into enough, and more. It turns denial into acceptance, chaos into order, confusion to clarity. It can turn a meal into a feast, a house into a home, a stranger into a friend. – Melody Beattie.
Dankbaarheid, regtig? Kan dankbaarheid so iets doen. Wanneer laas was jy opreg dankbaar?
Vinnig kan ons almal antwoord, ek het my kollega nou net bedank vir sy raad, of ek het vir die kelner by die restaurant dankie gesê vir vinnige diens.
Is dit opregte dankbaarheid of eenvoudig beleefdheid? Slegs iets wat jy doen uit gewoonte omdat dit van jou verwag word.
Sodra jy met ander begin gesels oor dankbaarheid sal daar ook die wees wat vinnig kan sê ek het niks om voor dankbaar te wees nie. Ek het my werk verloor, ‘n geliefde is oorlede, ek sukkel finansieel, ek is besig om te knak onder druk.
My antwoord hierop is dat jy nie hoef dankie te sê vir die slegte dinge nie. Die Bybel sê nie dat jy dankbaar moet wees vir die kwaad nie, maar jy kan in elke situasie, maak nie saak hoe sleg dit is nie, vir God dankie sê omdat Sy doelwit groter as jou probleem is.
Jim Stovall vertel in sy boek, The Ultimate Life, die verhaal van ‘n boemelaar wat altyd gelukkig was en nooit ‘n slegte dag beleef het nie. Vir enige persoon is dit heeltemal te goed om waar te wees en terselfder tyd is ons nuuskierig om te weet hoe hy dit reg gekry het. Jim se antwoord is eenvoudig. Die boemelaar het daagliks sy “Golden List” opgestel. Elke oggend as hy wakker word, voordat hy opstaan om die lewe in die oë te kyk, het hy ‘n lys gemaak van ten minste 10 dinge in sy lewe waarvoor hy kan dankbaar wees. Die lys het soms baie meer as 10 punte bevat en ander kere het hy gesukkel om tot by 10 uit te kom. Die slotsom is dat die boemelaar so gefokus was op dit waarvoor hy dankbaar kon wees in die lewe, dat hy nie gefokus het op die negatiewe en slegte dinge nie. Die punt is hy het ‘n keuse gemaak om uit dankbaarheid te lewe.
Sodra jy begin om ‘n “sogenaamde“ Golden List op te stel sal jy besef dat ons meestal fokus op die eenvoudige dinge. My werk, my huis, my kar, kos op my tafel ensovoorts. Wat van my verstand om gesonde beslutie te kan neem, gesondheid, my vriendin wat ek kan skakel in tyd van nood of hartseer, die vermoë om trauma en chaos te hanteer en dalk die dokter wat kennis het om medisyne voor te skryf om my gesond te maak? Hoe langer mens aan hierdie lys werk hoe meer en meer kom jy tot die besef dat dit waar jy is en wat jy het, slegs genade is.
Om oor dankbaarheid te besin kan mens sentimenteel laat optree of tot die verwronge idee bring dat dankbaarheid ‘n verpligting moet wees. Ware dankbaarheid begin as jy kan aanvaar dat dit wat met jou gebeur deel is van God se plan met jou lewe.
Dankbaarheid en genade is woorde wat hul oorsprong vind in die Latynse woord gratus wat ook verblydend beteken. Dit omvou die stille wete en emosie dat wanneer jy in ‘n toestand van diep dankbaarheid is, jy dikwels spontaan die teenwoordigheid van genade sal voel. Die genade van ‘n mens se lewe is dat dit jou die vermoë gee om te ervaar wat buite die gees en liggaam aangaan. Waar God die leegheid kom volmaak.
Brian Tracy het die volgende wyse woorde gesê “Develop an attitude of gratitude, and give thanks for everything that happens to you, knowing that every step forward is a step toward achieving something bigger and better than your current situation.”
Indien elkeen van ons Brain se uitdaging aanvaar en ‘n lewe van dankbaarheid gaan begin leef, sal ons ook soos Riaan Cruywagen kan sê “…ten einde was dit alles net genade”Woorde in sy uittree toespraak wat my weereens laat besef het dat sy nederigheid hom ‘n leefwyse van dankbaarheid laat leef het.
Ten einde kom ons tot die punt waar elkeen van ons ‘n keuse moet maak om ‘n leefstyl van dankbaarheid te kweek. Die leefstyl sal jou laat besef dit is nie meer ‘n geval dat jy net goeie dinge vir jouself kies nie en jou dankbare leefwyse is nie meer afhanklik van jou lewensomstandighede nie. Jy besef dat pyn en vreugde deel is van die geheel. Wanneer hierdie toestand van onbaatsugtige dankbaarheid begin blom, word jou gedagtes ruimer, ook stiller en jou hart ontvang sy eerste smaak van die lang gesogte vrylating van vrees en wil. Dit is genade.
Bronne:
Die Krag van Dankbaarheid. Dr Leon Oosthuizen. Oktober 2010
Genade deur dankbaarheid gevind. Hennie Fritz. 21 Maart 2013
The Ultimate Life. Jim Stovall